My bors trek toe en ek kry nie 'n woord uit nie. Sy los my uiteindelik en vee 'n traan onder haar bril uit. "Nou ja, waarvoor staan julle nog hier buite? Kom in."

"Ek het ongelukkig 'n ander afspraak, Ma. Is dit reg as ek Marlie net-nou weer kom oplaai?"

"Natuurlik. Sy's welkom. Ek wou lankal al met haar opgevang het."

My ma groet en ry weg. Ek kan nie glo sy doen dit aan my nie! Hoekom sal sy dit aan my doen?

"Kom in, skat." Ek loop in en die bekende reuk van my ouma se huis tref my. Herinnerige spoel deur my. Die verlore jare se vreugde wat hier vasgevang is. "Sit, ek maak vir ons tee."

Ek gaan sit op die hout stoel wat aan die groot ronde tafel gedek is. Die tafel kom al soveel jare saam en het al van baba spoeg tot rooiwyn oor hom gehad.

"Dis so lekker om jou weer te sien. Die laaste keer toe jy hier was was die dag toe jou ouers oorsee was. Ons het nie regtig weer kontak gehad van toe af nie en dis al wat? Nege maande?" Ek knik net en kyk ontsteld af. My hart pyn in my borskas. "Hoe gaan dit met jou, my kind?"

Ek sluk 'n paar keer om my stem terug te kry en om die seer te onderdruk, "G- goed, dankie Ouma," breek my stem soos ek jok.

"Dis goed om te hoor en hoe dra matriek jou tot dusver?"

"Okay, dis maar harde werk en daar is heeltemal te veel goed op 'n mens se brein."

"Oh ja, ek onthou dit nog goed. Dis die jaar van hope pret. Tog loop die hope pret hand aan hand met harde werk. Is jou aansoeke al in?"

"Ja, Ouma. Ons behoort in die volgende paar weke voorlopige terugvoer te kry."

"Dis opwindend. Daar's 'n hele nuwe wêreld wat nou vir jou gaan opgaan."

"Ek hoor so." Sy sit twee pierings met koppies op die tafel neer en loop terug na die kombuis, reguit na die koekieblik toe. Soos by meeste oumas, is daar altyd koekievoorraad in die blik.

Ek glimlag, maar die skaduwee verdwyn nie. Nege maande presies. Dis hoe lank ek terug laas met haar kontak gehad het. In die tyd het sy nie een keer my gebel of net 'n SMS gestuur nie. Niks nie. Nie eens 'n gelukwensing met my verjaarsdag nie.

Daardie tyd het ons 'n uitval gehad. Vir die eerste keer in my lewe moes ek my eie gevoelens bo ander mense s'n gestel het. Dit was die moeilikste ding wat ek nog ooit gedoen het.

Ek weet ek is dalk nou eers agtien jaar oud, maar dit beteken nie dat ek nie soos 'n volwassene kan dink nie. Ek weet wanneer is dit reg om 'n persoon op 'n sekere maniere te hanteer en ek weet wanneer is dit verkeerd. In daardie situasie was dit beslis verkeerd.

Ek het altyd probeer om die mense om my gelukkig te hou. Om hulle gevoelens so in ag te neem dat ek nooit by myne uitkom het nie. Ek was so gefokus op hulle dat ek toegelaat het dat mense oor my loop. En sý was een van daardie mense.

Hardkoppigheid loop diep deur ons familie boom. Dit is deur die geslagte oorgedra. My ouma het 'n groot lepel van daardie gesluk.

Sy is altyd reg, maak nie saak wat nie. Sy glo altyd dat haar punt reg is, al het 'n mens al die regte feite om haar verkeerd te bewys. Dan stoot sy al die feite opsy en boor jou so diep in die grond in.

As familie eers begin kante kies moet 'n mens weet om jou uit die spore te vee. Stories versprei soos 'n veldbrand en mense glo die vuur. Ek was dom genoeg om eenkant te staan en die vuur van 'n afstand dop te hou. Ek het nie beweeg nie en toe ek weer sien het die vuur my opgeskep.

My gevoelens het diep hier binne my opgehoop en opgehoop, totdat dit sy kapasiteit bereik het en oor begin loop het. Daardie tyd kon ek nie meer nie. Ek was emosioneel verbrokkel.

Ek het so veel as moontlik my afstand probeer hou. Dit was so moeilik omdat sy steeds na alles my ouma is. My ouma na wie ek opkyk en in haar voetspore sal loop as ek moet. Sy is my heldin en my rolmodel.

Ek het altyd gehoop dat sy my sal kontak of sal jammer sê, maar dit het nog nooit gebeur nie. Ek het vrede daarmee gemaak en nou sit ek hier. In haar huis met 'n gebroke hart en herinneringe wat soos 'n eier bo-oor my kop oop gebreek het.

Ek vat 'n groot sluk van die warm tee en dit spoel by my keel af. Ek probeer om myself onder beheer te kry, maar ek voel hoe alles by my opstoot. Ek sit die koppie vinnig neer.

"Marlie, is jy okay? Jy's vreeslik bleek." Ek knik en rus my kop op my hande. My wêreld draai om my. "Marlie? Magtig, kind, wat gaan aan?"

Ek kan dit nie meer vat nie. Ek spring op en hol na die naaste badkamer toe. Oor die toilet se rand val ek neer.

Oomblikke later voel ek 'n hand oor my skouer. Dit is my ouma wat agter my staan. Trane begin oor my wange val. Ek word regop getrek. Die toilet se sitplek word afgeslaan en my ouma sit my daarop neer. Haar koue en sagte handjies rus op my wange.

Die trane hou nie op nie. "My liewe kind." Haar stem is sag en vertroosend. Nie dat dit werk nie.

"Ek's jammer, Ouma."

"Waaroor? Jy het tog niks om voor jammer te wees nie. Ek was die een wat verkeerd was. Ek het geweet ek vernietig jou, maar wou dit nie aan iemand of myself erken nie. Ek het gedink jy sal 'n beter lewe hê as ek nie daarin is nie."

"Asseblief, Ouma. Moet nooit weer so iets dink nie." Ek slaan my arms om haar nek en druk haar so styf vas soos wat ek kan.

"Kom ek gaan maak vir jou iets wat jou maag weer vas sal maak." Hand aan hand stap ons by die badkamer uit.

Sy hou vir my 'n mengsel uit en gehoorsaam drink ek dit. Ons gaan sit in die sitkamer. "Daar is seker nog iets wat jou pla?"

Ek sug. "Ja, daar is." Ek vertel haar van die begin af. Van die dag wat ek en Jessica ons uitval gehad het tot vandag toe. Ek vertel haar van Dylan en hoe ek oor hom voel en net alles.

Sy luister aandagtig na alles wat ek te sê het en toe ek klaar is kyk sy na my. "My skat, elke mens het 'n storm. 'n Storm wat alle standvastige dinge uit die grond kom ruk en vernietig, maar na elke storm is daar 'n reënboog. Maak nie saak of die storm groot of klein was nie, daar sal altyd 'n reënboog na die tyd sy verskyning maak. 'n Reënboog met helder kleure en die son in die agtergrond. Mens leer uit storms uit en herstel dan al die foute. Mens maak nie altyd weer 'n tweede fout nie. Gebruik die geleentheid om jouself te herbou en te ontwikkel. Bou jou fondasie sterker op as ooit en wees die reënboog van vele kleure. Moet nie wag vir die regte tyd nie, want wanneer is die regte tyd dan nou eintlik? Doen dit nou."

Ouma is reg. Soos altyd is sy reg oor alles. "Dankie, Ouma." Ek staan op en gaan sit op haar stoel se armleuning. "Ek is bly my ma het my net hier kom aflaai. Dis die beste ding wat sy ooit kon doen."

"Dit is, my kind. Dit is."

-

Net toe ek by die huis kom lui my foon. Ek ken nie die nommer op my skerm nie, maar tel dit steeds op. "Marlie, hallo?"

"Marlie!" roep 'n opgewonde stem uit.

"Wie praat nou?" vra ek met 'n frons op my gesig.

"Dis ek, Jaydon."

"Jaydon! Is dit hoekom jou stem so bekend klink?" Hy giggel aan die ander kant van die lyn. "Hoe gaan dit met jou?"

"Baie goed, dankie. Ek het jou nommer op Mamma se foon gekry, wat sy lankal by Dylan vir my gekry het."

"Dis goed. Is daar enige spesifieke rede hoekom jy my bel? As ek mag vra."

"Ja!" roep hy opgewonde uit.

"Nou ja, laat ek hoor, Meneertjie."

"Dis vanaand my gimnastiek kompetisie en ek wil hê jy moet vir my kom kyk."

"Vra jy my of sê jy my?"

"Asseblief, Marlie? Jy't gesê jy wil kom kyk as ek gimnastiek het."

"Ek het ja. Ontspan, ek sal graag kom kyk."

Jare se verwonderingWhere stories live. Discover now