'n Onvergeetlike Avontuur

1.4K 7 4
                                    

Kortverhaal

Net voor middernag, rol ek vir die soveelste keer om in my yskoue Tambotie bed. Ek luister na die naggeluide. 'n Leeu wat in die verte brul. 'n Uil wat hoe-hoe in die boom langs die safaritent. Wat 'n voorreg om in die Kruger Nasionale Wildtuin saam met my familie vakansie te hou.

Ek dink terug aan gister se geskarrel vir die uittog. Hoe alles ingepas het, gaan my verstand te bowe. My familie se geliefkoosde gesegde is nie verniet: " Gaan groot of gaan huis toe" nie! En ons gaan beslis nie huis toe nie....

My gedagtes gaan terug na vroeg vanoggend. Soos een man was ons almal vroeg uit die vere, pieknikekmandjies gepak, reg om die groot 5 te gaan soek en om by Timbavati ontbyt te gaan eet. Min het ons geweet wat wag net om die draai....

Ons niggies het besluit om in een motor te ry. Die res van die familie het solank vooruit gery. Ons moes eers gaan petrol ingooi. Mens wil nie in die middel van die wildtuin sonder petrol gaan staan nie!

Skaars 3 km met 'n vol tenk petrol vra Chani: "Wat maak so?"

"Ag seker net 'n klippie in die wiel, " stel ek haar gerus. Maar die geluid het al harder geword. Dit het geklink asof die wiel gaan verloor. Ek loer deur die venster.

"Stop, julle, stop. Die wiel is heeltemal pap!" Ons almal gryp gelyktydig na ons selfone. Dankie tog vir tegnologie! Maar o wee, net soos wat Eskom ons krag wegvat, het die wildtuin ons sein weggevat.

"Ons het mos 2-rigting radios," sê Adri verlig. Maar o wee. Net soos wat die duiwel dit wou gehad het, was die familie se 2-rigting radios afgeskakel. Hoe gepas... net gisteraand lees ons uit die Bybel van die versie wat sê: Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? Maar in hierdie geval is dit meer: Ek slaan my oë af na die pap wiel, waar sal my hulp nou vandaan kom?

"Ek klim nie uit nie", sê Chani.

"Ek beslis ook nie, sê Adri. Ons sal moet wag vir 'n barmhartige wildtuinganger om ons uit die penarie te red. Maar almal wat verby ry tuur net na die pap wiel, asof hulle dit met hulle oë gaan oppomp.

"O aarde, kyk daar voor in die pad," skree Chani benoud.

"Mens sal sweer...... ja! Dit is! Dit is 'n massiewe renoster! Vandag trap hy ons so plat soos pannekoeke!"

Net op daardie oomblik stop die barmhartige wildtuinganger langs ons. Hulle sien ook die renoster. Maar dis nie al nie...... Met 'n Aquafresh glimlag vra hy vir ons: "Is julle dames bewus van julle pap wiel?"

"Haai nee. Ons sit maar net hier met benoude gesiggies en sonder sein" dink ek, maar sê dit nie hardop nie. Ek wil nie die barmhartige wildtuinganger die skrik op die lyf jaag nie.

Net daar klim die barmhartige wildtuinganger uit die motor en stel hom voor as Johan. Ons niggies is baie in ons noppies, want ons kan sommer binne die motor, deur die sondak waghou!

"Kom meisies, uit is julle. Julle moet buite kom waghou terwyl ek die wiel omruil."

As julle al ooit gesigte gesien het wat verander van 'n tevrede glimlag, tot 'n geskokte: "regtig jy grap seker" uitdrukking, het julle nog niks gesien nie!

Daar staan ons toe langs die motor. Oë wyd oopgerek. Nie ver van ons nie, loer die renoster vir ons deur die Mopanie-takkies.

Gouer as wat Usain Bolt om die baan hardloop, is ons terug in die motor nadat die laaste skroef vasgedraai is. Sjoe, wat 'n verligting! Dis 'n avontuur wat ons niggies beslis nie gou sal vergeet nie.

Natuurlik was ons die grap van die familie toe ons uiteindelik by Timbavati aankom.
Die ontbyt het wel verander na middagete.

Nou ja, laat ek maar probeer insluimer. Wie weet wat se avontuur wag volgende in die onvoorspelbare Kruger Nasionale Wildtuin!

Ek hoop julle het hierdie kortverhaal geniet.

Dit is gebaseer op 'n ware gebeurtenis wat ek al beleef het!

Onthou asb om te VOTE

COMMENTS is baie welkom

Om 'n Tiener te weesWhere stories live. Discover now